Goed en kwaad verwys in godsdiens, etiek en filosofie na die ligging van voorwerpe, begeertes en aksies op ’n lineêre spektrum – die goeie is moreel positief en die kwade moreel negatief.
"Goed" is ’n breë konsep, maar het gewoonlik te doen met lewe, welsynwerk, geluk, liefde, vooruitgang en die reg. Daarteenoor word "kwaad" vereenselwig met bewustelik verkeerde aksies, diskriminasie, vernedering, vernietiging en onnodige en willekeurige geweld.[1] In die Middeleeuse filosofie het Augustinus en Aquinas kwaad bloot verstaan as ’n gebrek aan goed. Dit kan gemeet word aan persoonlike of subjektiewe oordeel of aan ’n gemeenskapsnorm.